BKSA / MCSA
UITSTAPPIEVERSLAE / MEET REPORTS Go to links Skakels/Links
(onderaan bladsy/bottom of page)

Maart 2008 tot Junie 2008

AANDAG LEIERS: Stuur asb ’n volledige uitstappie verslag aan die bestuurslede vir Klimprogram, Nuusbrief en aan die Sekretaris en ’n harde kopie aan BKSA, Posbus 152, Stellenbosch, 7599.

  Wolwekloof, 15 Maart 2008 Pieke, 15 Maart 2008
Die suidooster het ons ‘n koue streep getrek en meeste se swemlus gedemp. Sommiges het nog meer gebewe toe ‘n tou en harnas uitgedeel is vir die (opsionele) klim verby die laaste waterval. Na middagete het Theuns, Phil en Ingrid verder geklim terwyl ons ander een vir een deur die koue afgejaag is. Toe die Cilliers tien voor vyf by die parkeerplek kom, was al die ander reeds weg, waarvan net die Steenkamps vooraf verskoon is. Nogtans ‘n heerlike stap.
Lydia Cilliers
‘n Groot groep, ongeveer twintig mense van verskillende ouderdomme, klim die Pieke. Ons volg die roete met Langrivier op en Nerinakloof af. Daar is bekendes en gaste – en die groep stap goed en kuier lekker! Middagete is bo en ons geniet die uitsig vanaf die Pieke met hul unieke bekoring. Terug onder kyk ons weer na die Pieke en weet – “ons was daarbo en dit was goed!”
Teuns Kok
 
Fietstoer, Stellenbosch na Bainskloof, 5-6 April 2008 Twaalf Apostels, 12 April 2008
Die belangstelling was aanvanklik min en net drie persone het vanuit Stellenbosch die pad na Bainskloof aangedurf. Oorspronklik was die plan om via die Agter-Paarl pad (R44) na Wellington te fiets. Christel Jost sou by ons aansluit maar toe sy nie meer kon saamkom nie maak Retief die voorstel om via Helshoogte en die Wemmershoekpad om te ry. Die roete tot op Steenboksberg se bergklub eiendom is 91 km teenoor 72 km via die Agter-Paarl pad. Wat ‘n belewenis om Bainskloof per fiets te kan ‘ervaar’. Gelukkig was die drie fietsryers nog ‘Argus-fiks’. Elsbeth het die rugsakke per motor aangery en die geselskap het by die motor parkering op Steenboksberg eers middagete genuttig voor ons begin stap het. By die kampeerplek het ons dan die Cilliers familie ontmoet, hulle het reeds die dag tevore (per motor) aangekom. Sondagoggend vroeg het dit begin reën wat veroorsaak het dat ons sopnat moes oppak en uitstap. Die fietsryers was toe nie lus om sopnat Stellenbosch terug te fiets nie. Die gerief van die ou BMW wat met gemak vier van ons plus drie fietse kon vervoer was ‘n veel beter vooruitsig.
Paul Verhoeven
Effe stormagtige herfsweer het ons aanvanklik laat twyfel of dit ‘n dag vir die berge sal wees. Nogtans is die uitstappie goed bygewoon met agt lede, drie aansoekers en ses gaste wat aan die voet van Tafelberg ontmoet het. Na ’n aanvanklike geskarrel om motors om te ry na die eindpunt, het ons by die parkeerplek in Theresa-laan, Kampsbaai, begin stap. Ons het opgestap met Kasteelpoort, met ‘n tierende suidoostewind wat die Tafel se kleed oor die westehang in ons gesigte gewaai het. Bo is die meestal mistige atmosfeer darem nou en dan afgewissel met asemrowende uitsigte oor die Atlantiese oseaan. ’n Hoogtepunt was die klim na Grootkop, met fantastiese ou koningsprotea bosse en bome begroei met oumansbaarde – het mens laat dink aan iets uit Tolkien se wêreld. Middagete is by Judaspiek geniet, waarna ons met Llandudno Ravine afgestap en by Suikerbossie ge-eindig het. Die van ons wat nie haastig oppad terug was na Stellenbosch se musiekkonserte nie, het afgesluit met ’n laaste kuier en koeldrankie in Houtbaai. Voorwaar ’n suksesvolle uitstappie op ‘n minder bekende deel van Tafelberg.
Jeanette Holtzhausen
 
Landroskloof, 19 April 2008 Krakadouw, Naweek 1-4 Mei 2008
Uitgereën.
Teuns Kok
Ses lede, vier kinders en twee gaste het die uitstappie meegemaak. ’n Misverstand het die groep van die begin af in twee gedeel, met die Uyse wat net dagstappe gedoen het. Die res van ons het Donderdagmiddag tot by Moedersielshoek gestap en was bly om ‘n paar poeletjies water daar te kry. Die berg was seker op sy droogste. Donderdag is ons rustig op tot by die grotjie, met ‘n welkome besoek van die Uyse langs die pad. Die sterk wind wat van die begin af gewaai het, wou egter nie gaan lê nie. Saterdag het ons opgeklim na die baken, waar die reën ons oorval het. Ons is af in Langstraat waar die water reeds goed gestroom het en die watervalle en die reën ons goed deurnat het. Dit was nogal ‘n belewenis om “kloofing” te doen bo-op ‘n berg in winterstoestande. Gelukkig het ons droë slaapsakke en klere by die grotjie gewag, en het die wind darem intussen gaan lê. Die res van die dag het ons probeer keer dat ons droë goed ook nat word. Die afgaan Sondag was nog nat en moes ons maar nog versigtig wees op die nat klippe. Ons het laat eers by die huis gekom, moeg maar gelukkig. Dit was ’n voorreg om die oorgang van die droogste seisoen na die nat winter te kan beleef!
Lydia Cilliers
 
Noodhulpopleiding, 10 Mei 2008 Pic-Sans-Nom, 11 Mei 2008
Walther Meyer het ‘n suksesvolle noodhulpkurses aangebied, wat ongelukkig deur net vier lede en twee gaste bygewoon is. Sien asseblief hofie onder Noodhulp elders in nuusbrief vir meer inligting.
Teuns Kok
Uitgereën.
Teuns Kok
 
Zeebaschbosch Werksnaweek, 17-18 Mei 2008 Rotsklim, Lakeside Pinnacle, 25 Mei 2008
Die afgelope werksnaweek was seker die mees suksesvolle tot datum as ons getalle in ag neem. Nie net was daar vier deelnemers nie, maar ook konserwatief geskat het 7500 hakea saailinge in die slag gebly. As jy soos Wessel 'n hakea saad in jou sak sit vir elke 100 wat jy uittrek is dit maklik om tred te hou met jou vordering. Maar as jy soos ander deelnemers (wat eerder anoniem sal bly) sukkel om tot 'n 100 te tel, weet jy nie so lekker nie. Daar is egter 'n hoë waarskynlikheid dat die telgestremdes ook 'n bydrae in dieselfde ordegroote gemaak het as die wat wel akkuraat tel. Gerhard het ook goed gevorder met die volwasse denne teen die kranse. Tog, as jy van die oorkant van die Breederiviervallei kyk kan jy al 'n verskil sien, as jy weet waar om te kyk! Ter afsluiting, om te probeer verduidelik aan die wat nie kan verstaan wat besiel 'n persoon om hierdie tipe bergklimaktiwiteit aan te pak en boonop nog te geniet nie, die volgende twee aanhalings : "Do what you can, with what you have, where you are" (Theodore Roosevelt) en "Faith is like a raindrop that knows only a stream, but dreams of an ocean" (onbekend). En so hou ons aan om te doen wat ons kan terwyl ons droom van 'n indringervry Zeebasbosch. Ander dromer doeners is welkom om by ons aan te sluit volgende keer!
Gerhard van Wyngaardt
Sunday 25 May turned out to be a beautiful sunny day after weeks of rain in the Cape. The rock was dry and the enthusiasm plenty. A surprisingly large group of around 18 climbers met at Lakeside Pinnacle for a great day’s climbing. John-Paul Harper (special guest invited by an injured James Krohn) and Kobus Botha made quick work of putting ropes on all the better climbs on the crag, and everyone got stuck in straightaway. By mid-day, each one had done three climbs or more and most of the routes on the crag were bagged repeatedly. Jeanne stunned by flashing an 18, a 19 and two 16s in great style, setting the tone for the day. Nie te sleg vir iemand van 62 nie! John-Paul and Michael made light of a 21+ project by repeating it several times. Gauging by both the interest and the scale of enjoyment and camaraderie, it is highly recommended that the club consider doing similar outings more frequently.
James Krohn
 
Stellenboschberg, 31 Mei 2008 Simonsberg, 7 Junie 2008
Toe agt van ons Saterdagoggend deur Paradyskloof se denneplantasie stap was die wêreld nog goed nat na die week se reën. Stellenboschberg was oop, maar die wolke op Helderberg het aangedui dat daar steeds 'n kans was dat ons sou nat reën. Met die koel weer vorder ons fluks. Amper bo val daar genoeg druppels dat die reënjasse uitgehaal word, maar op die nek drink ons tee in die son terwyl die miswolke om die Pieke dwarrel. Die rotse by die hoogste baken was besonder glad in die nattigheid, maar almal wou daar kom; sommige op hul sokkies toe die skoene nie wou vas trap nie! Die son het hard probeer, maar kon nie deur die wolke breek nie. Na middagete is almal koud en is die konsensus dat kortste pad af die aangewese roete is. Ons volg dus ons voetspore terug soos ons gekom het, eerder as die minder steil langer pad aan Coetzenburg se kant. Natuurlik trek die weer oop en is dit heel warm voordat ons ver af is. Na 'n lekker dag in die berge in ons "voortuin", is ons vroeg middag weer tuis.
Hans Scheffler
Uitgereën.
Louw Engelbrecht

:: Terug na bo ::


[Tuis] [Uitstappies] [Uitstappieverslae] [Nuusbrief] [Argief] [Foto's] [Komitee] [Lede Inligting] [Aansoekvorm] [Vrywaring]
[Bergklub van SA (hoof webwerf)]